Afrikaner kranten

Beskaamd

[...] Mnr. Morgan Tsvangirai het hom eers aan die “deur bloed deurdrenkte klug” in Zimbabwe onttrek en moes gister blykbaar vir sy lewe na Botswana vlug.

[...]Die prys van pres. Thabo Mbeki se jare lange stille diplomasie teenoor sy beskermling Mugabe styg hiermee nog hoër, want wat op ’n staatsgreep neerkom, is nou in Zimbabwe voltrek.

[...] Suid-Afrika staan in die proses beskaamd, omdat Mbeki en die ANC-leierskap die bus skreiend verpas het. Hulle het hande-wringend gestaan en toekyk hoedat nog ’n Afrika-misoes gebeur. Hul bydrae via Zimbabwe tot Afrika-pessimisme is aansienlik.

Wat nou, want bemiddeling deur Mbeki het in ’n rampspoedige grap ontaard? Eenvoudig: Mugabe moet met internasionale woord en daad uit sy diktators-kussings verwyder word.

(Commentaar in Volksblad, 24 juni)

Die kans is verspeel

[...] Derdens is dit duidelik dat stille diplomasie lankal misluk het en dat Mbeki, ook in sy rol as die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se hoofonderhandelaar in Zimbabwe, lankal die inisiatief verloor het.

Die kans vir ’n leidende rol is verspeel, en die beste wat hy nou kan doen is om maar ander te volg en aan te sluit by die groeiende koor wat internasionaal druk op Zimbabwe gaan uitoefen.

Agteros kom ook in die kraal – uiteindelik!

(Commentaar in Die Burger, 24 juni)

Uitklopverkiesing

[...] Die veroordeling van die geweld wat in Zimbabwe namens en deur Mugabe en sy party gepleeg word, het selfs in die ANC-alliansie weerklank gevind.

Die ANC sê in ’n verklaring “dwingende bewyse van geweld, intimidasie en volslae terreur . . . deur die Zimbabwiese regering se veiligheidsorgane” het hom oortuig ’n vry en regverdige verkiesing is nie moontlik nie.

Cosatu sê hy is “gewalg” deur vlakke van geweld en reken môre se uitklopverkiesing is ’n “oorlogverklaring teen Zimbabwe se mense”.

Teen gister het dit egter steeds gelyk asof Mugabe hom nie aan hierdie veroordelings gaan steur nie en die verkiesing wat intussen ’n klug geword het, gaan laat voortgaan.

Dit is daarom nou tyd dat pres. Mbeki van Suid-Afrika, die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Afrika-unie die beginsels van demokrasie en regverdigheid herontdek waaroor hulle in die verlede al sulke gevleuelde woorde kwytgeraak het. Dan moet hulle dit voor môre aan Mugabe baie duidelik maak dat as hy deur die verkiesing gaan en homself as president sou inhuldig, hulle hom nié as die president van Zimbabwe sal erken nie.

Dat hulle hom dan amptelik sal sien vir wat hy is: ’n diktator wat in die bloedige voetspore van so baie ander diktators loop – despote wat ons vasteland se naam deur die modder sleep en die mense in armoede verkneg.

En dat hulle op amptelike vlak die sanksies teen hom en sy onwettige regime gaan toepas wat dit verdien, totdat ’n vry en regverdige verkiesing in Zimbabwe gehou kan word.

So ’n verkiesing sal onder toesig van die VN moet geskied – ’n toesig wat ook die opbou daartoe sal moet insluit.

(Commentaar in Beeld, 25 juni)